Hendrik en MildredSoos klokslag dou voor dag
Drink die twee ewe gedweë
Elke oggend in die bed
Sitrusdal se rooibos tee
Dan praat hulle hieroor en daaroor
Van wat maak maer en wat maak vet
Van wat niemeer is nie en wat hul het
Met die klim van die son
As die eerste strale soos krale
Glimmer teen venster ruite en die muur
Neem die twee gewigtige besluite
Oor wie dié oggend die kar sal bestuur
Mildred sê sy moet, omrede haar bakselgoed
Van koeksusters, melktert en beskuite
Die T-Model Fordjie in die waenhuis
Word uitgestoot en vol gepak
Alles uit die spens se rak -
Met Mildred agter die wiel
Draai Hendrik die slinger met hart en siel
As die Fordjie hik en brom en grom
Neem hulle die langpad na Standerton
So gaan die lewe maar aan
Op 'n kalme, stilswyende traan
Tussen baksels van koek en beskuit
Met rooibos tee om hul saam te smee
Lewe Hendrik en Mildred hul lewens uit
Met die kom en gaan van die sekel maan
Durf die T-Model Fordjie gereeld die langpad aan
Deur Hugo van Staden
Kopiereg © 2000