Battlefields: History: The Voortrekkers: Battle of Blood River: N Worthington
deur Neville Worthington
Teen die winter van 1838 het die Voortrekkers in Natal verskeie kwaai terugslae beleef (Bloukrans; moord van Piet Retief en sy groep; en die Vlug-Kommando wat Dingaan nie kon verslaan nie). Siekte en koors in die laers het die mense lam gelê en die diere het nie genoeg weiding gehad nie.
Op die 23ste September sterf die leier Gerrit Maritz. 'n Deputasie is uit Natal gestuur om Andries Pretorius om hulp te vra.
In Oktober het Pretorius 'n konvooi van 68 waens uit die Kaap gelei. Hulle kom op die 22ste November by Sooi-laer aan. Pretorius word verkies as Kommandant. Op die 27ste November ruk die Kommando op na die Zoeloe-hoofstad, Umgungundlovu. Die mag het bestaan uit 464 Voortrekkers, 3 Britse Setlaars (onder wie Alexander Biggar) en 120 Port Natal-inboorlinge.
Met hulle aankoms by Waschbank, het Sarel Cilliers die kommando in gebed gelei en 'n gelofte aan God afgelê dat hulle en hulle nageslag die dag sou heilig as hulle die Zoeloe-oormag kon verslaan.
Op pad verby die huidige Dundee, het die Kommando kontak gemaak met groepe Zoeloe-krygers. Op die14de Desember was hulle in sig van wat vandag Bloedrivier is.
Andries Pretorius het sy basis goed gekies. Aan die een kant was die Ncomerivier (Bloedrivier), met 'n diep sloot aan die oostekant. 'n Laer bestaande uit 64 waens is opgestel. Die Zoeloe-aanval het op 16 Desember 1838 begin, in die hartjie van die somer aan die suidpunt van Afrika.
Die oggend van die 16de was mistig. Die Zoeloe-krygers, onder leiding van Ndlela en Dambuza, het in die mis kontak met sommige van hulle regimente verloor. In plaas van die beplande aanval as 'n geweldige oormag, het hulle in groepe aangeval.
Die Voortrekkers se kanon was gelaai met stukke metaal, soos potskerwe. Hulle het gate deur die aanvallende massas geskiet. Die Zoeloes het skuiling gaan soek in die sloot, waar hulle so dig opmekaar was dat die boere 'n vernietigende aanval kon loods.
Toe die Zoeloes op die vlug slaan, is die Voortrekkers te perd agterna. Die krygers het in die rivier gehardloop, waar hulle in groot getalle afgemaai is. Die water is rooi gekleur deur hulle bloed, wat aanleiding gegee het tot die naam Bloedrivier.
Die slag van Bloedrivier was verby.
Sowat 3000 Zoeloes het gesterf. Drie Voortrekkers is gewond.
Van hierdie bladsy (vertaling: Marlene)
If you want to read the English pages, click on home below.
Die Skrywer van hierdie bladsy is 'n trotse lid van die HTML Writers Guild. |