Vyftien tapisserieë met Voortrekker-tonele
(Veertien van die tapisserieë is op hierdie bladsye. Klein prentjies word
saam met die teks vertoon, maar as jy op enigeen kliek, sal jy 'n groter beeld sien, met
meer besonderhede sigbaar.)
Hierdie wonderlike kunswerke beeld die daaglikse lewe van die Voortrekkers uit. Hulle was die pioniers van Suid-Afrika, in die jare tussen 1834 en die 1840s.
In 1952 het 'n groep vroue besluit om die Voortrekkervroue te eer op 'n manier wat vir die nageslag 'n kykie sou gee op die moeilike lewe en kommer van daardie jare. Hulle wou 'n sagte, kleurryke monument skep vir die baanbrekers van hulle geslag, wat 'n eeu tevore die binneland help tem het.
Die Suid-Afrikaanse kunstenaar, WH Coetzer, is genader om die groot doeke te ontwerp en te skilder. Dit sou die planne vir die borduurwerk wees.
Uit 'n grootse kombinasie van verfkwas en borduurnaald het talent en vernuf saamgespan om hierdie wêreldberoemde meesterstukke te skep. Dit was deels moontlik omdat die kunstenaar die vroue kon bystaan wanneer hulle 'n besonder ingewikkelde gedeelte moes borduur, byvoorbeeld die skadu's en vlakke van 'n gesig. 'n Kunstenaar kan verf meng totdat die regte skakering bereik is, maar vir borduurwerk is 'n mens beperk tot die kleure van beskikbare wol.
Coetzer het hierdie probleem oorkom deur die kleure van sy verf te meng volgens die kleure van die wol. Daarna het hy sy verfmengsels dieselfde nommers gegee as dié van die wol.
Agt jaar later, in 1960, is die projek voltooi en was dit gereed vir uitstalling.
Vertrek uit die Kaapkolonie
Die kunstenaar het nie net daarin geslaag om 'n pragtige monument
van kunswerke te skep nie, maar hy het die tapisserieë gevul met kleiner detail,
met emosie en simboliek.
Die verhaal begin met die boere wat hulle afgesonderde, dog gerieflike Kaapse woonhuise verruil vir die onseker, ongemaklike lewe in 'n ossewa. Een van die eerste werke toon die voorbereidings en vertrek uit die Kaap, op soek na 'n nuwe plek om te woon.
Op die voorgrond kan duidelik gesien word dat gereedskap, kos en ander belangrike items vir oorlewing opgelaai moes word. In die agtergrond sien 'n mens die beeste en ander diere wat deur kinders en plaaswerkers bymekaargejaag word.
Hulle is vol hoop uit die Kaap weg, gevul met hoop om 'n beter lewe vir hulself en hulle kinders te vind in die onherbergsame binneland.
Storms, reën, siekte, aanvalle deur wilde diere en onvriendelike stamme - dit alles moes die hoof gebied word met slegs die ossewaens en voorlaaier-gewere as beskerming.
Dikwels word die waens uitgebeeld in 'n sirkel, bekend as 'n laer. Die waens is so na as moontlik aan mekaar getrek en doringtakke onder die wiele ingeruk in 'n poging om wilde diere en indringers uit te hou.
In die gevegstonele toon die kunstenaar hoe elkeen betrokke was in 'n poging om die veiligheid van die Trekkers te verseker. Vroue en groter meisies het agter die mans gestaan en die vuurwarm gewere herlaai. Hulle moes ook lood smelt en nuwe patrone giet. Jonger kinders moes help om na gewondes om te sien. Jong seuns is van vroeg af geleer om te skiet, en moes hulle deel doen.
Hierdie toneel beeld Potgieter se groep uit waar hulle by Thaba Nchu by die goedgesinde Barolong-stam uitgespan het.
Dit herinner 'n mens dat daar nie net konflik tussen die onderskeie groepe was nie, maar ook verdraagsaamheid en behulpsaamheidheid.
Alledaagse lewe
Coetzer slaag daarin om die daaglikse lewe in besonderhede uit te beeld,
en plaas besondere klem op die rol wat vroue en kinders gespeel het. Hulle was letterlik
die tentpale wat die hele brose bestaan staande gehou het.
Die vroue was altyd geklee in lang rokke en die Voortrekkerkappies, wat 'n breë rand gehad het en onder die ken vasgebind is. Die skerp Afrika-son het die sagte Europese velle verniel. In die nag is die hare bedek met 'n sagte kappie.
Let ook op die besonder slim detail in verskeie van die tonele, byvoorbeeld 'n kremetartboom of 'n spesifieke berg, wat terselfdertyd ook die Voortrekkers se roete uitbeeld.
Vyandige stamme was nie die Voortrekkers se enigste of grootste probleem nie. Siektes soos malaria en die tsetsevlieg, wat slaapsiekte veroorsaak, was onbekend en het baie sterftes tot gevolg gehad.
Om die hoë berge oor te steek in waens wat alles bevat het wat hulle besit, moes 'n senutergende ondervinding gewees het, om die minste te sê. Dit is ook die Voortrekkers wat die Drakensberge hulle naam gegee het - "draken" is die Hollandse woord vir 'n draak.
Om die woeste waters van die Oranjerivier oor te steek na die gebied te wat later sou bekend staan as die Republiek van die Oranje-Vrystaat, was nog 'n gevaarlike oefening vir die handjievol Trekkers.
As iets gebreek het, soos 'n wawiel, moes almal uitspan om dit te herstel. Dit was nie soseer dat almal moes help nie, maar om die veiligheid van die groep te verseker.
Uit die tapisserieë word dit duidelik dat hierdie dapper mense hulle gewoontes, lewenswyse en godsdiens voortgesit het, waar hulle ook al in die wildernis was.
Boekevat was een van die gewoontes wat baie streng nagekom is. Die patriarg sou 'n gedeelte lees (dit was die tyd toe Psalm 119 enduit gelees is) en die kinders moes luister en later verslag doen van wat hulle gehoor het. Die Bybel is gebruik vir leeslesse, as opvoedkundige handleiding en om die klein samelewing te hanteer en reguleer.
Ontmoeting met die Zoeloe-volk
Die grootste gedeelte van die Trekkers wou graag in die vrugbare area oorkant
die Drakensberge vestig. Dit is die gebied bekend as Natal.
Voordat hulle kon grond beset, moes hulle met die Zoeloes onderhandel. Hierdie nasie
was 'n trotse ras in beheer van die Natal-gebied.
'n Ooreenkoms is bereik tussen die Voortrekkerleier, Piet Retief, en die koning van die Zoeloes, Dingaan.
Maar die ooreenkoms is van die Zoeloes se kant af verbreek. Terwyl die Trekkers in die Zoeloes se kamp by Umgundgundlovo geëet het na die ooreenkoms, het Dingaan opdrag gegee dat hulle doodgeslaan moet word. Die 70 blanke vrywilligers en sowat 30 swart helpers is omring deur die Zoeloes en tereggestel op 'n heuwel net buite die koning se kraal.
Ontnugter en leierloos het die Voortrekkers in Retief se groep 'n boodskap aan Andries Pretorius gestuur om hom te vra om ook hulle leier te wees. 'n Ooreenkoms is gesluit om Zoeloes te straf. Die Voortrekkers was egter baie bewus daarvan dat hulle net 'n klein groepie was teenoor die massa Zoeloes. 'n Eed is voor God gesweer, dat die dag van die botsing altyd herdenk sal word as 'n heilige dag indien God hulle help om die Zoeloes te oorwin. Sarel Cilliers het die eed opgestel en aan die Voortrekkers voorgelees.
Die veldslag het op 16 Desember 1838 plaasgevind, by die rivier wat later Bloedrivier genoem is na aanleiding van die bloed wat daar gevloei het. Die Voortrekkers het die slag gewen.
Dingaan het gevlug en is later vermoor deur sy halfbroer, Mpande, wat die leierskap van die Zoeloes oorgeneem het. Hy was die Voortrekkers goedgesind. Hulle kon nou in Natal grond besit. Die eerste Boererepubliek is daar gestig.
Nog 'n gevegstoneel, hierdie keer die geveg by Bloukrans.
Coetzer sluit die verhaal af met 'n simboliese samevatting. Die wit krul in die middel is ook 'n voorbeeld van die tipiese Kaaps-Hollandse boustyl.
Die kunstenaar se voorletters en die naam van die vroue wat die borduurwerk gedoen het, kan in die hoeke van elke tapisserie gesien word.
'n Replika van 'n tipiese Voortrekker-pioniershuis
Die Voortrekkermuseum vertoon 'n goeie voorbeeld van een van hierdie
huise.
Huise moes gebou word met die materiaal wat Moeder Natuur kon verskaf. Stewige mure is gebou met klei uit die riviere of stroompies. Balke en stutte is gesaag uit bome wat rondom die erf gegroei het. Lang gras is gesny om die dak te dek. Die grasbondels is met leertoutjies vasgebind - dit is bekend as riempies.
Vloere is ook van klei gemaak, dikwels verhard deur die fyngestampte modder van miershope by te voeg, en dan af te wissel met 'n laag beesmis. Beesbloed is dikwels by die mengsel gevoeg om die vloer 'n ander voorkoms te gee.
Die huis sou 'n baie eenvoudige woonplek wees, sonder enige luukses. Dit sou gewoonlik begin as 'n enkele vertrek, en groei soos wat die tyd toegelaat het of die groeiende gesin vereis het. Kamers kon maklik bygevoeg word om uiteindelik 'n T- of H-vorm te wees. Meubels was enkele stukke wat uit die Kaap saamgebring is, en dan aangevul is deur stukke wat van plaaslike hout gemaak is. Dierevelle, klei, hout en ander natuurlike materiale het 'n belangrike rol gespeel in die lewens van die eerste nedersetters. Beeshorings het 'n interessante hoede- of geweerrak verskaf, en jakkals- of dassievelle het 'n warm kombers gemaak wanneer niks anders beskikbaar was nie. Sekere benodigdhede kon geruil word van swart bure en reisende handelaars wat by uitsondering verbygekom het. Op die manier kon die spens aangevul word.
Persoonlike besittings uit daardie jare
'n Gedeelte van die Museum beeld persoonlike besittings uit die
Voortrekkertydperk uit. Klere wat gehou is vir "beste" was bekend as
"kisklere", omdat dit gewoonlik in 'n kis gebêre is. Daar is voorbeelde
van kisklere in die Museum, asook 'n paar van die wonderlike handwerk wat
op items soos sonkappies te sien was.
Items wat in Dingaan se kraal gevind is, asook enkele items wat aan verskillende
persone behoort het, kan gesien word. Kinderspeelgoed en wapens vertel die twee kante
van die geskiedenis van hierdie mense. Baie items van die alledaagse lewe
is pragtig versier - 'n uitbeelding van die mens se behoefte om homself met mooi
dinge te omring.
Meeste inligting uit
Voortrekkermuseum
Foto's van poskaarte
If you want to read the English pages, click on home below.